SHOWING ARTICLE 198 OF 211

Brics-beraad kan beleggings lok

Category Sake 24 - Property

Brics-beraad kan beleggings lok

Die vyfde Brics-beraad, wat in die afgelope week in Durban gehou is, kan Suid-Afrika se huismark as beleggingsgeleentheid in die internasionale kollig plaas.

Brasilië, Rusland, Indië en China kan ’n beduidende rol speel om die belangstelling in Suid-Afrika se huismark te vergroot, sê Ronald Ennik, uitvoerende hoof van Ennik Estates, wat by die internasionale Christie’s Real Estate Organisation geaffilieer is.

Hy sê vanuit ’n beleggingsperspektief is die belangrikste Brics-reisigers die bestuurshoofde wat Johannesburg en spesifiek Sandton as ’n basis gebruik vir korporatiewe beleggingsprojekte in Suid-Afrika en ander lande in Afrika suid van die Sahara. Daar is reeds kopers en huurders van luukse eiendom. Hy sê Chinese besoekers aan die land het met 62,8% op ’n jaargrondslag toegeneem, dié uit Brasilië met 51,7%, Russe met 34,6% en Indiërs met 18%.

Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding Eiendomme (PGE), sê die potensiaal vir beleggings deur ryk Chinese in Suid-Afrikaanse eiendom is groot. PGE het onlangs ikoniese eiendomme by die China Luxury Summit in Sjanghai vertoon.

“Die breë konsensus was dat Chinese besoekers die gehalte van die eiendomme en die leefstyl besonder aantreklik vind.”

Buitelandse aankope van eiendom in Suid-Afrika is die afgelope paar jaar swak en het in die vierde kwartaal van verlede jaar 3,5% van die totale aankope van eiendom uitgemaak, volgens First National Bank se eiendomsbarometer.

Author: Elma Kloppers

Submitted 03 May 13 / Views 4410